TIENDEMAAND DANKBAARHEIDSOFFER

Oktobermaand is elke jaar ‘n besondere maand vir ons gemeente. Dit is die maand waarin ons lidmate die geleentheid kry om op ‘n spesiale manier, bo en behalwe hulle maandelikse dankoffers, hulle dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader te betoon vir al die goedheid, guns en genade wat ons onverdiend uit Sy vaderhand ontvang.
Soos verlede jaar, is ons steeds vanjaar baie bewus van die ontwrigtende effek wat Covid-19 op ons lewens het. Trouens, dit voel asof dit vanjaar nader aan ons gekom het met familie en vriende wat ernstig siek geword het of selfs oorlede is. Dit kan ‘n gevoel van onsekerheid by ons skep. In so ‘n tyd is dit vir ons as gelowiges egter ‘n wonderlike voorreg om te kan vashou aan ons Hemelse Vader oor wie se liefde, omgee en versorging selfs, en veral in moeilike tye, daar geen onsekerheid bestaan nie. Dit is vir ons ‘n groot bron van dankbaarheid. Hierdie dankbaarheid kan op baie wyses betoon word. So kan ons vir mense wat swaar kry, help en ondersteun en natuurlik bid. ‘n Ander manier is by wyse van ons dankbaarheidsoffers. Hierdie en ander geld van ons gemeente word ook gebruik om in die nood van ander te voorsien soos byvoorbeeld met sopkombuise, barmhartigheid en droogtehulp.
Wat betref ons dankbaarheidsoffers, is dit vir ons belangrik om te noem dat enige bedrag, groot of klein, welkom is. Dit is ‘n saak tussen u en u Hemelse Vader hoeveel u gee. Sal dit nie wonderlik wees as elkeen van ons gemeentelede iets gee nie, maak nie saak hoeveel nie!!
Gedurende Oktober sal u dienswerker aan diegene wat nie ‘n elektroniese metode gebruik om ‘n oorbetaling te maak nie, ‘n koevert besorg waarop die woorde “My Dankbaarheidsoffer” verskyn. Gebruik dit asseblief om u dankoffer in te plaas. Tydens die inry-nagmaalsdiens op 31 Oktober vanjaar, waartydens ook die Hervormingsfees gevier sal word, sal u die geleentheid kry om u koevert in te gee. As dit egter nie vir u moontlik is om dit op daardie spesifieke dag in te gee nie, kan u dit op enige ander Sondag wat u pas, doen. Elektroniese oordragte, soos vir u maandelikse bydraes, word graag aanbeveel. Merk dit asseblief net baie duidelik as “10de Maand Dankbaarheidsoffer”.
Ons vertrou ons Hemelse Vader dat Hy ook 2021 se insameling van ons dankbaarheidsoffers wonderlik sal seën. Ons sê weer eens vir u as gemeentelede baie dankie vir die mooi gesindheid wat u nog altyd teenoor ons gemeente openbaar het, in besonder ook ten opsigte van hierdie belangrike aangeleentheid. Ons glo ons gaan die begrote bedrag van R160 000 behaal!
Finansiële Kommissie

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023