DANKBAARHEIDSOFFERS – OKTOBER 2022

Oktobermaand is elke jaar ‘n besondere maand vir ons gemeente. Dit is die maand waarin ons lidmate die geleentheid kry om op 'n spesiale manier, bo en behalwe hulle maandelikse dankoffers, hulle dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader te betoon vir al die goedheid, guns en genade wat ons onverdiend uit Sy vaderhand ontvang.
Oktobermaand vanjaar is vir 'n ander rede ook besonder vir ons. Ons is nog steeds bewus van Covid 19 en die geweldige negatiewe gevolge wat dit vir ons land op sosio-ekonomiese terrein gehad het en nog vir baie lank gaan hê.
Ook vir ons as individue. Maar baie mense getuig dat hulle in hierdie moeilike tyd ook positiewe ervarings gehad het. Een daarvan is dat hulle met meer tyd tot hulle beskikking rustig hulle lewe in oënskou kon neem. In die proses het hulle opnuut tot die besef gekom dat, ten spyte van Covid 19, hulle nog soveel stof tot dankbaarheid het. Dit gee 'n ander, selfs dieper, betekenis aan ons dankbaarheidsoffers vanjaar.
Dit is vir ons belangrik om te noem dat enige bedrag, groot of klein, welkom is. Dit is 'n saak tussen u en u Hemelse Vader hoeveel u gee. Sal dit nie wonderlik wees as elkeen van ons gemeentelede iets gee nie, maak nie saak hoeveel nie!!
Gedurende Oktober sal die gebruiklike koeverte met die woorde “My dankbaarheidsoffer” in die voorportaal van die kerk gelaat word - neem gerus een daarvan. Gebruik dit asseblief om u dankoffer in te plaas. Tydens die nagmaalsdiens op 6 November 2022, sal u die geleentheid kry om u koevert in te gee. As dit egter nie vir u moontlik is om dit op daardie spesifieke dag in te gee nie, kan u dit op enige ander Sondag wat u pas, doen. Elektroniese oordragte, in ooreenstemming met die voorgestelde wyse van oorbetaling van bydraes, word met nederigheid aanbeveel - merk dit asseblief net baie duidelik as “10de Dankbaarheidsoffer”.
Ons vertrou ons Hemelse Vader dat Hy ook 2022 se insameling van ons dankbaarheidsoffers wonderlik sal seën. Ons sê weer eens vir u as gemeentelede baie dankie vir die mooi gesindheid wat u nog altyd teenoor ons gemeente openbaar het, in besonder ook ten opsigte van hierdie belangrike aangeleentheid. Ons glo ons gaan die begrote bedrag van R180 000 behaal!
Diensgroep vir Finansies

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023