Erediens - 02 Julie 2023


Ons nooi jou uit na Sondag se erediens om 9:30 in die kerk.
Ons verwelkom vir ds. Basie Fourie wat ons met die Woord sal bedien.
Daar is geen Vonkies in die vakansie nie.
Kom kuier saam na die diens, oor 'n lekker koppie koffie, in die saal.


VOLGENDE SONDAG

Kom sluit volgende Sondag by ons aan vir die erediens om 09:30 in die kerk.


DEUROFFER: DIEPKLOOF KLEUTERSKOOL


Soos meeste van u bewus is, is Diepkloof Kleuterskool in 2002 gestig deur lede van die gemeente om veral die kinders op die plase die geleentheid te gee om Vroeë kinderontwikkeling programme te ondergaan en skoolgereed te kry eerder as om alleen op die plaas te sit terwyl hul ouers werk. Tans het ons 65 kinders tussen die ouderdom van 3 tot 6 jaar oud wat deur 4 gekwalifiseerde opvoeders opgelei word om voorbereid te wees vir hul formele skoolloopbaan en hul so die beste kans te gee om te ontwikkel in goed-aangepaste volwassenes wat eendag hul plek in die lewe sal kan vol staan. Ons leerders kom nou omtrent om die helfte van die plase en van Hoogekraal gebied af. Hulle word daagliks gratis vervoer met die skool se Kia bakkies, wat deur die Opvoeders bestuur word met die nodige PDP lisensies. Met al die reën wat ons tans ondervind is die paaie nogal 'n uitdaging op die bestuurders en die voertuie! Die kinders kry elke oggend ontbyt van verrykte pap wat aan die skool geskenk word, 'n mid-oggend toebroodjie en 'n gekookte ete wat ons aan George Superkitchens uitkontrakteer het wat aan verskeie skole in George kos verskaf. Baie dankie aan die Kerkraad vir ons splinternuwe kombuis wat so te sê klaar is en nou binne die omheining van die Kleuterskool is en die lewe vir ons skoonmaker/kok baie makliker maak! 'n Toilet vir die Personeel is ook in aanbou, sodra die reën weer bouwerk toelaat!
Ons ontvang 'n subsidie van die staat wat sowat 40% van ons maandelikse onkostes dek; ouers is veronderstel om 'n minimale skoolfonds van R120/maand te betaal - ongelukkig is baie van ons ouers werkloos en kan nie eers dit bybring nie; die Ouerkomitee hou kwartaalliks 'n fondsinsameling funksie en vir die res is ons afhanklik van donasies en ander fondsinsameling pogings. Dis met groot dankbaarheid dat ons kan sê dat ons nog in staat is om kop bo water te hou wat die maandelikse finansies aanbetref maar ons het geen "buffer fondse" sou iets groots verkeerd gaan nie. Ons ideaal is om fondse op te bou om voorsiening te maak om ons ouer voertuig binne die volgende 5 jaar te kan vervang. Die kinders se veiligheid is ons hoogste prioriteit en sonder betroubare voertuie kan hulle nie by die skool kom nie.
Ander behoeftes sluit in:

  • Ons is in die proses om ons opvoedkundige apparaat te herevalueer en nuut aan te koop waar nodig. Dit sluit in spesifieke ouderdomsgerigte balle, hoepels, springtoue, boontjiesakke, ens.
  • Handwerk benodighede soos poeierverf, gom, klei, kryte, handwerk voorskote, ens.
  • Kinderboeke is altyd 'n behoefte sodat ons van jongs af by leerders 'n liefde vir lees kan aankweek
  • Ons benodig ook groot skopfietse. Hulle moet maar op 'n gereelde basis vervang word - hulle het 'n beperkte leeftyd as gevolg daarvan dat hulle so baie hard werk!

Diepkloof Kleuterskool is geregistreer as 'n "Public Benefit Organization", wat beteken dat alle donasies aan die skool 'n belastingvoordeel inhou vir die donateur. Ons reik jaarliks Art 18A kwitansies uit aan alle donateurs. Indien u voel dat u 'n vaste maandelikse skenking wil doen, of slegs 'n eenmalige skenking, is ons bankbesonderhede as volg:
Diepkloof Kleuterskool
FNB Tjekrekening nommer 63050348284
Bankkode 210314.

BAIE DANKIE AAN ELKEEN WAT REEDS OP ENIGE MANIER BETROKKE IS BY DIE KLEUTERSKOOL EN BY VOORBAAT BAIE DANKIE VIR U BYDRAES MET DIE DEURKOLLEKTE - SOOS U KAN SIEN IS DAAR BAIE GATE WAT TOEGESTOP MOET WORD!

Kontak gerus vir Bernice van Rooyen vir enige verdere navrae.


 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023