DANKBAARHEIDSOFFERS – OKTOBER 2023

Oktobermaand is elke jaar 'n besondere maand vir ons gemeente. Dit is die maand waarin ons lidmate die geleentheid kry om op ‘n spesiale manier, bo en behalwe hulle maandelikse dankoffers, hulle dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader te betoon vir al die goedheid, guns en genade wat ons onverdiend uit sy Vaderhand ontvang.
Oktobermaand vanjaar is vir 'n ander rede ook besonder. 2023 is ons Jubeljaar. Ons het inderdaad 'n jaar van oorvloed beleef. Die baie boodskappe op ons Jubelmuur getuig daarvan. Ons is die afgelope jaar herinner aan al die seëninge uit die Vader se hand. Jubeljaar gee ‘n ander, selfs dieper betekenis aan ons dankbaarheidsoffers vanjaar.
Dit is vir ons belangrik om te noem dat enige bedrag, groot of klein, welkom is. Dit is 'n saak tussen u en u Hemelse Vader hoeveel u gee. Sal dit nie wonderlik wees as elkeen van ons gemeentelede iets gee nie, maak nie saak hoeveel nie?
Gedurende Oktober sal die gebruiklike koeverte met die woorde “My dankbaarheidsoffer” in die voorportaal van die kerk beskikbaar wees. Neem gerus een daarvan. Gebruik dit asseblief om u dankbaarheidsoffer in te plaas. Tydens die nagmaalsdiens op 29 Oktober vanjaar, waartydens ook die Hervormingsfees gevier sal word, sal u die geleentheid kry om u koevert in te gee. As dit egter nie vir u moontlik is om dit op daardie spesifieke dag in te gee nie, kan u dit op enige ander Sondag wat u pas, doen. Elektroniese oordragte, in ooreenstemming met die voorgestelde wyse van oorbetaling van bydraes, word met nederigheid aanbeveel. Merk dit asseblief net baie duidelik as “Dankbaarheidsoffer”.
Ons wil graag elke Outeniqualander bedank vir die mooi gesindheid wat u nog altyd teenoor ons gemeente openbaar het, in besonder ook ten opsigte van hierdie belangrike aangeleentheid. Daarom bied ons op Sondag 29 Oktober 2023 'n gratis gemeente-ete aan in die Kobus Hattingh-saal. Ons sal later meer inligting hieroor aan u deurgee.
Ons vertrou ons Hemelse Vader dat Hy ook 2023 se insameling van ons dankbaarheidsoffers wonderlik sal seën. Ons glo dat ons die begrote bedrag van R170 000 gaan behaal!
Diensgroep vir Finansies

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023