ONS SUSTERSKERK IN MALAWI STIG NUWE GEMEENTE


Dis nie meer vir ons vreemd om Malawiërs hier in die Wes-Kaap raak te loop nie. Ons ontmoet hulle in restaurante, by petrolstasies en selfs op universiteit as nagraadse teologiestudente. Op Sondag 29 Oktober was dit 'n aangrypende geleentheid toe ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode die Cape Town CCAP-tak by Nomzamo in die Strand gestig het. Dr. Hennie van Deventer, vorige prinsipaal van hul teologiese instituut (JMTI) en sy vrou Ingrid was teenwoordig. Hy het gepreek en gedoop, terwyl ds. EM Tembo, die moderator van die CCAP Nkhoma Sinode, die diens gelei het. Hennie vertel: “Dit was 'n marathon-erediens van meer as vyf uur lank. Die nuutgestigte gemeente het agt takke (prayer houses) op plekke sover as Hermanus, Houtbaai en Franschhoek. Die algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode, ds. Vasco Kachipapa, was hier vir die stigting, asook twee leraars en hul vroue van die CCAP Ring van Mvera. Drie predikante van Nkhoma wat as nagraadse studente aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, was ook teenwoordig. Daar is kerkraadslede voorgestel (35 ouderlinge en 30 diakens), belydenis van geloof afgelê, kinders gedoop, Chigwirizano-vroue ingelyf en 20 kore wat wou sing. Daar is reeds vier gemeentes van die CCAP Nkhoma Sinode in Gauteng - in Johannesburg, Germiston, Tembisa en Mamelodi.”

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023