Pinksterafsluiting - 19 Mei 2024


Ons nooi jou uit na Sondag 19 Mei se PINKSTERFEES om 09:30 in die Kerk.
Die Pinkster sluit af met 'n Nagmaals-ete om 12:00 in die Kobus Hattinghsaal in Glentana. Elke gesin bring 2 bykosse (groente of slaai), 'n vleisgereg en 'n nagereg en kom kuier lekker saam. Die kosse word alles op een tafel uitgepak en elkeen help homself met die opskep.
Bring ook asseblief jou eie eetgerei en drankies saam. Tafels en stoele word voorsien, maar jy is welkom om jou kampstoel saam te bring. As jy onseker is by wie jy kan sit, kontak vir Maryna.
Dit is 'n fees van dankbaarheid, kos en kuier. Doen die moeite en kom kuier lekker saam.
As gevolg van die Nagmaalsete is daar hierdie Sondag geen koffie na die erediens nie.

Op Pinkstersondag vier die kerk God se groot geskenk aan sy kerk, nl. die uitstorting van die Heilige Gees. Ons lees in Hand 2 dat die Gees op die dissipels gekom het op die Joodse Pinksterfees. Die mense het die geluid van ’n stormwind gehoor en gesien hoe tonge soos vuur op die gelowiges gekom het. Die Gees het aan hulle die gawe om in ander tale te praat geskenk. Die dissipels, wat aan die treur was oor Jesus se weggaan, is op daardie dag vervul met blydskap en het dadelik begin om die nuus van Jesus se opstanding die hele wêreld in te dra. Na aanleiding van Petrus se preek op daardie dag is ’n groot oes vir die koninkryk ingesamel. Omtrent 3000 mense is op daardie Pinkstersondag gedoop. 'n Mens kan amper sê dat die kerk op dié dag gebore is. Pinksterdag is die kerk se verjaardag.
Baie dankie vir die getroue bywoning en meelewing met ons Pinksterdienste. Alle eer aan die Here wat ons ook stuur om sy verteenwoordigers in ons plekke van ontspanning te wees.


VOLGENDE SONDAG

Jy word hartlik uitgenooi na Sondag 26 Mei se erediens om 09:30 in die kerk.
Volgende week se tema is: GEBED: Mag ek vir sukses in my werk bid?


DEUROFFER: PAARL SKOOL VIR GESTREMDES (Sinodaal)

"I do not have a dis-ability, I have a different-ability."

Die Skool vir gestremdes is begin deur ouers asook die NGK in 'n huis in Paarl sowel as 8.5 hektaar grond buite Paarl wat in die 1960's vir die doel geskenk is.
In 1972 is 'n stuk grond in Brackenfell gekoop en die Paarl Skool vir Gestremdes is gestig. Vandag staan die "Paarl" in die naam vir 'n pêrel. Die beeld word gebruik dat die ouers, opleiers, terapeute en ander personeel met geduld en toewyding die perlemoen oopmaak om die pêrel in die binnekant bloot te stel. Daar is 322 leerders, 59 opvoeders en terapeute en 80 ondersteunende personeel.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023