OUTENIQUALAND BETROKKENHEID BY SKOLE EN GEMEENSKAP

Outeniqualand-gemeente is betrokke by Diepkloof Kleuterskool op ons kerkgronde (ongeveer 70 kinders) sowel as 3 ander landelike skole in ons onmiddellike omgewing: Hoogekraal Primêr, VGK Diepkloof Primêr en Laerskool Van der Hoven. Oor die afgelope jaar en langer het ons toenemend bewus geword van die gebrokenheid onder ouers en huisgesinne op die plase asook die informele nedersetting op Hoogekraal. Die Here het ons gelei om by hierdie nood betrokke te raak.
Ons het begin deur 'n klompie rolspelers uit die gemeenskap bymekaar te kry om seker te maak dat ons bewuswording van die nood in lyn is met wat regtig in ons landelike gebied aangaan. Ons het boere, lede van die Plaaswag, GPF, verteenwoordiging van die BADISA-kantoor uit Knysna, skoolhoofde, gemeenskapsleiers en lede van ons Diensgroepe vir Getuienis en Barmhartigheid bymekaar gebring.
Daar was 'n groot mate van instemming dat daar goeie opvoeding aan ons kinders gegee word. Dit word dikwels afgebreek, enersyds omdat die kind in die namiddag by leë huise aankom vanweë ouers werksaam is, en andersyds omdat huisgesinne gebroke is en na ure nie hulle rol as ouers verstaan nie. Ouerleiding is as 'n groot behoefte uitgespreek asook 'n nasorgsentrum vir kinders in ons area.Bogenoemde gesprek was 'n bevestiging van 'n droom wat ons gehad het om op 'n geestelike sowel as ontwikkelingsgebied meer betrokke te raak by die ouers in ons landelike gebied. Ons het begin wonder oor 'n Maatskaplike Hulpwerker en of dit nie die voertuig moet wees, wat in vennootskap met ons gemeente, die gemeenskap kan help om weer gesonde gesinne te hê nie?
Help ons bid om met geloofsonderskeiding die regte ding in ons landelike gebied doen: dit wat tot opbou van ons mense sal wees en tot eer van God.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023

Kerssangdiens - 26 November 2023