DANKBAARHEIDSOFFERS – OKTOBER 2024

Oktobermaand is ‘n besondere maand, want dit is lentemaand. Volgens die digter C. Louis Leipoldt is dit die mooiste, mooiste maand. Vir ons as Outeniqualanders is daar ‘n verdere rede waarom Oktobermaand besonders is. Dit is naamlik die maand waarin ons gemeentelede die geleentheid kry om op ‘n spesiale manier, bo en behalwe ons maandelikse dankoffers, ons dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader te betoon vir al die goedheid, guns en genade wat ons onverdiend uit Sy vaderhand ontvang en hoeveel stof tot dankbaarheid het ons as gemeente nie! Ons lidmatetal groei, ons finansies is gesond, daar is soveel aktiwiteite waaraan ons kan deelneem, daar heers soveel liefde, warmte en omgee tussen ons lidmate, ensovoorts, ensovoorts.
Wat ons dankbaarheidsoffers betref, wil ons graag noem dat enige bedrag, groot of klein, welkom is. Dit wat jy gee, is ‘n saak tussen jou en jou Hemelse Vader. Sal dit nie wonderlik wees as elkeen van ons lidmate iets gee nie, maak nie saak hoeveel nie!
Ons wil graag met tyd minder kontant by die kerkgeboue hanteer, vir veiligheidsredes. Daarom, is die verkose bydrae-metode ‘n elektroniese inbetaling.
Merk asseblief net jou inbetaling baie duidelik as “10de Maand dankoffer”. Vir diegene wat verkies om ‘n kontantbydrae te maak, sal daar gedurende Oktober die gebruiklike koeverte met die woorde ”My dankbaarheidsoffer” in die voorportaal van die kerkgebou beskikbaar wees. Neem gerus daarvan om jou dankbaarheidsoffer in te plaas, as jy hierdie metode sou verkies. Tydens die nagmaalsdiens op Sondag, 27 Oktober vanjaar, waartydens ons ook Hervormingsfees gaan vier, sal jy die geleentheid kry om jou koevert in te gee. Sou dit nie op daardie dag moontlik wees nie, kan jy dit ook op enige ander Sondag ingee, tot-en-met einde November 2024. Jy kan dit ook by die kerkkantoor inhandig, as dit jou beter pas.
Ons wil graag elke Outeniqualander bedank vir die mooi gesindheid wat julle nog altyd teenoor hierdie belangrike saak openbaar het.
Daarom vertrou ons, ons Hemelse Vader dat Hy ook 2024 se insameling wonderlik sal seën en dat ons, soos nog altyd, die begrote bedrag sal behaal. Hierdie jaar is ons mikpunt R264 000, wat ongeveer 8% van ons jaarlikse inkomste verteenwoordig.

Diensgroep vir Finansies

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023

Kerssangdiens - 26 November 2023