Diepkloof Kleuterskool
Ons kan 'n verskil maak!
AGTERGROND
Diepkloof
Kleuterskool wil vir kleuters uit die landelike gebied in Sinksabrug,
naby George, 'n veilige, gelukkige omgewing skep waar hulle kan leer,
speel en sosialiseer. Positiewe waardes en gedrag word aan die kleuters
oorgedra deur voorbeeld, aanmoediging en liefde, sodat hulle 'n vaste
fondament kan hê om te ontwikkel in gelukkige, goed-aangepaste
volwassenes, wat eendag met selfvertroue hul plek in die samelewing sal
kan vol staan.
GESKIEDENIS
In 2001, onder die bekwame leiding van mev. Wilna Durand, het die Diens van Barmhartigheid van die NG Kerk Outeniqualand 'n kleuterskool begin vir die kinders van die plaasarbeiders binne ons gemeentegrense. Aanvanklik was die skooltjie in die kerksaal op die perseel van die kerk aangebied. Drie dames is vanuit die plaaslike gemeenskap geïdentifiseer om, met behulp van beurse wat vir hul gereël is, opgelei te word as onderwyseresse by Suid-Kaap Kollege. Die dames uit die gemeente het ingespring en uitgehelp met kos verskaf en klasse aanbied en fondse insamel, terwyl die mans ook gehelp het met onder andere vervoer van die kinders. Aanvanklik het die Kerkraad die salarisse van die onderwyseresse betaal, terwyl alle ander fondse uit skenkings moes kom. Ouers het van die begin af ook 'n minimale skoolfonds betaal.
In 2002 is 'n nie-winsgewende organisasie, die Outeniqualand Rural Development (ORD), geregistreer, wat hul in staat gestel het om te kwalifiseer vir 'n subsidie by die Departement van Maatskaplike ontwikkeling.

In 2008 het die ORD verander na 'n Artikel 21 Maatskappy met 'n Direksie wat bestaan het uit lede van die gemeente sowel as lede uit die gemeenskap. Die Kleuterskool se naam is nou slegs Diepkloof Kleuterskool.
Vervoer was van die begin af 'n uitdaging. Aanvanklik het gemeentelede die kinders aangery, 'n klein bakkie is aangekoop en nog later is 'n Kia-bakkie aangekoop waarmee die onderwyseresse, wat almal Openbare Voertuiglisensies het, daagliks gratis die kinders na en van die skool vervoer. 'n Tweede Kia-bakkie is in 2013 aangekoop. Ons is baie dankbaar vir boere uit die gemeenskap wat die grootste gedeelte van die brandstof verskaf.
HUIDIG


Deur middel van skenkings is 'n fietsbaan, kompleet met verkeers-tekens, geplavei sodat die kinders met hul nuwe skopfietsies daarop kan ry. Die asbesmuur is ook met vrolike Disney-karaktertjies geverf deur 'n entoesiastiese weldoener.

Ons personeel bestaan uit 4 opgeleide onderwyseresse, wat 'n formele opvoedkundige program volg, en 'n skoonmaker/kok, want die kinders kry elke dag ontbyt, 'n volledige gebalanseerde middagete en 'n peuselhappie en drinkdingetjie deur die dag. Die perseel is deur die Departement goedgekeur vir 60 kinders. Daar is 'n waglys waarvandaan nuwe leerlinge ingeneem word soos die ouer outjies ons skool verlaat vir die “groot skool”.
FINANSIES
Die grootste bron van inkomste is die subsidie van R15/kind/skooldag wat ons vir 'n maksimum van 50 van die 60 kinders in ons sorg ontvang vanaf die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Die ouers wat kan (gelukkig die grootste meerderheid), betaal skoolfonds van R80 of R100 per maand, afhangende van hoe lank die kind by die skool bly per dag.
Uit hierdie twee bronne moet die onderwyseresse en kok se salarisse betaal word, voedsel aangekoop word, alle skryfbehoeftes, opvoedkundige speelgoed, skoonmaakmiddels en diverse kostes betaal word. Ons skiet gemiddeld so R5 000 per maand tekort, wat opgemaak moet word uit skenkings, donasies en ander fondsinsamelingsinisiatiewe.
Diepkloof Kleuterskool is geregistreer as 'n Artikel 18A maatskappy en alle bydraes aan ons gemaak is aftrekbaar van belasting. Ons finansies word jaarliks deur geregistreerde ouditeure geoudit.
PROJEKTE
1. Tans probeer ons individue motiveer om vir ons op 'n maandelikse basis 'n vaste bydrae te maak van 'n voedselproduk, byvoorbeeld 'n pak suiker of hawermout of vars vrugte; of 'n kontantbydrae wat spesifiek aangewend sal word om voedsel aan te koop.
2. Ons wil graag hierdie jaar nog speelapparaat vir ons speelterrein aanskaf, veral wil ons graag 'n pophuis (Wendy-house) bou, sowel as ander apparate soos hoppelperdjies, ens. Daarvoor het ons geld en gewillige hande nodig!
KONTAKBESONDERHEDE
Voorsitter van die Direksie:
Bernice van Rooyen
Selfoon: 082 459 6302
E-pos: bvrooy@gmail.com
Skoolhoof:
Noleen du Preez
Selfoon: 072 494 5337
Adres:
Posbus 61
George
6530
BANKBESONDERHEDE
ABSA, George
Tjekrekening Nommer: 4055492826
Takkode: 630114
DIEPKLOOF KLEUTERSKOOL
Baie dankie aan elkeen wat gedurende 2014 op enige manier betrokke was by ons skool met skenkings, donasies, gebede of sommer net belangstelling.
Dit word opreg waardeer!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking