Meer oor ons

 

Hartlik welkom by die webtuiste van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Outeniqualand!


Ons gemeente het op 17 Junie 1950 van die Moedergemeete George afgestig met 364 lidmate, die meerderheid waarvan op plase en by Jonkersberg Bosbouplantasie gewoon het. Mettertyd het die strandgebied gegroei en bosboubedrywighede het afgeneem terwyl die bevolking van die strandgebied aangegroei het.

Tans het die gemeente sowat 500 lidmate en bestaan uit 19 wyke met ±268 besoekpunte (5 plaaswyke). Vakansiegangers by Glentana het in die beginjare spontaan eredienste gereël onder melkhoutbome en op stoepe. In 1958 word 'n "afdak" gebou vir kerkdoeleindes en in 1990 die huidige Kobus Hattinghsaal.

Die gemeente onderhou 'n kleuterskool vir die kinders van plaasarbeiders en het 'n voltydse geestelike werker wat werksaam is in die plaasgemeenskap van ons gemeente asook VGK gemeentes van Blanco, Friemersheim, Grootbrak en die Congregational Church Grootbrak. Ons het ook samewerkingsprojekte met Friemersheim-gemeente ten opsigte van kanselruiling, gesamentlike nagmaalsvieringe, finansiële bystand, behulpsaam met kantooradministrasie, uitreik na jeug, asook hul kermisprojek.

O.M.Projek, naaldwerkopleiding en al die samewerkingsooreenkomste het op 'n natuurlike wyse en op eie inisiatiewe na vore gekom.


Ons Visie:
'n Gemeente wat liefde en diensbaarheid uitleef binne en buite ons grense.

Ons Missie:
Om God se koninkryk deur woord en daad onder leiding van die Heilige Gees uit te brei.

Ons streef om hierdie uitdagende visie en missie in woord en daad uit te leef deur verskillende aksies en bedieninge.


Leraars:

 


Ds. Jacob Johannes Wasserfall
1951 - 1960

Ds. Jacob Johannes Wasserfall is die seun Jacobus Pieter Wasserfall en Anna Catharina Joubert en is gebore op 22 Desember 1891. Op 17 Januarie 1916 trou hy met Lenora Charlotte Malan in Kaapstad. Vanaf 1920 tot 1928 bedien hy NG Kerk Pearston. Hy was van 1928 tot 1931 leraar van die herstigte NG gemeente Chubut. Op 22 Desember 1948 trou hy met Jacoba Frederika Petronella Francina Magdalena Vos (gebore 30 Januarie 1892, oorlede 1 November 1971). Hy was ook NG Kerk-leraar op Keimoes. Op 26 Februarie 1962 sterf ds. Wasserfall en word begrawe in Philadelphia, Kaapstad.
 


Ds. B. J. Britz
1960 - 1970

 U is welkom om inligting rakende hierdie leraar te stuur aan tinusbadenhorst at gmail dot com
 


Ds. W. Jacobs
1971 - 1974

 U is welkom om inligting rakende hierdie leraar te stuur aan tinusbadenhorst at gmail dot com
 


Dr. Kobus Hattingh
1975 - 1997

 U is welkom om inligting rakende hierdie leraar te stuur aan tinusbadenhorst at gmail dot com
 


Ds. Japie Beyers
1998 - September 2018

Op 12-jarige ouderdom gee Japie Beyers sy hart aan die Here. Na matriek gaan hy na Stellenbosch op te studeer vir ingeneur, maar word deur die Here geroep om teologie te studeer. Sy eerste gemeente was in Loxton waar hy vir 14 maande in die bediening was. Daarna stuur die Here hom Kroonhof toe en daarna na 'n myndorp. Hy ontvang daarna 'n beroep na Outeniqualand en word in 1998 bevestig.
 


Ds. Jan Hendrik Fourie
2019 - Tans
 U is welkom om inligting rakende hierdie leraar te stuur aan tinusbadenhorst at gmail dot com


Hoeksteenlegging:





HOEKSTEENLEGGINGSBOODSKAP

--------------------

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERKGEBOU, OUTENIQUALAND
18 AUGUSTUS 1956


(Deur Ds. J. J. Wasserfall)

1 Petrus 2:6: "Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie."

HIERDIE PROFESIE, aangehaal uit Jesaja, en ingeklee in die taal van die boukuns, sien op Jesus, en is in Hom as die Hoeksteen van die Tempel van Gods koninkryk, die ware Sion, heerlik vervul. Uit die ryke simboliek waarvoor 'n hoeksteen staan, let ons tans net op twee betekenisse, t.w.: Saambinding, asof die mure van die hele gebou saamgevoeg is in die hoeksteen; en: Onderstutting, asof die gewig van die hele gebou rus op die hoeksteen vir sy instandhouding. Hoe volkome en werklik is onse Here Jesus Christus juis waarlik só 'n Hoeksteen vir Sy Gemeente - Hy wat alle ware gelowiges saambind tot één geheel, en wat Sy Kerk onderstut met die drakrag van Sy almag en reddende liefde, Sy opstanding en onwankelbare trou! Daarom, wie in Hom glo as die Rots der eeue, sal nooit beskaam word nie. Mag hierdie hoeksteen vir ons altyd 'n ware simbool van Christus wees; en mag hierdie evangeliese waarheid tot in die verste nageslagte steeds in hierdie Godsgebou verkondig word.

Maar dit kan alleen gebeur wanneer elke aanbidder, volgens aanduiding van 1 Kor. 3:16, self ook 'n Tempel van God is, gewy aan Sy diens, in wie die Gees van God woon. As Christus werklik die Hoeksteen van ons eie lewe is, dan eers kry hierdie simboliese Hoeksteen en hierdie Tempel vir ons hul regte betekenis en waarde. Dan sal ons ook hier voorberei word vir ons uiteindelike inwoning in die ewig volmaakte Tempel van die Hemel. Mag alles, wat onse Kerk en onsself kan ontheilig, uitgebrand word deur die louteringsvuur van die Heilige Gees; en mag Jesus Christus self die hoeksteen, die saambindende verbandsteen, die onwankelbare fondamentsteen in ons lewe as Christelikbelydende Gemeente wees tot die eer van God. - Amen.





Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Eredienste, Kersdienste en Oujaarsdiens - 24, 25, 31 Desember 2023

Eredienste en Vakansieprogram - Desember 2023